customer care survey
 

2011-01-25

Click on the following link to view the findings from the Customer Care Survey 

Tevredenheidsondersoek - Anja Theunissen

 

Baviaans Munisipaliteit het vir Octagonal Development aangestel om ‘n ondersoek te onderneem rakende die vlak van tevredenheid van inwoners en besighede met die dienslewering van die munisipaliteit. Die ondersoek het gedurende November en Desember 2010 plaasgevind.

 

‘n Vraagbrief is saamgestel gebaseer op die nasionale prestasie areas vir plaaslike owerhede en die ondersoek is gedoen in Willowmore, Steytlerville en Baviaanskloof. ‘n Meetskaal van tevredenheid is gebruik en was slegs van toepassing op respondente wat in die posisie is om oordeel uit te spreek, byvoorbeeld as ‘n persoon nie van die biblioteek gebruik maak nie, sal hy/sy nie ‘n opinie kan gee oor hoe hulle die biblioteek ervaar nie.

 

Octagonal Development het onderskeid tussen die onderskeie bevolkingsgroepe gemaak en die verwysing na kleur is bloot tegnies van aard om onderskeid te maak tussen die moontlike verskillende persepsies en behoeftes van die genoemde groepe en nie om enige vorm van apartheid aan te moedig nie. Die bevindings van hierdie ondersoek word dus ook in hierdie lig voorgelê.

 

Inwoners se tevredenheid met hoe hulle deur die munisipaliteit behandel word het getoon dat 90% van die bruin en wit gemeenskap en 82% van die swart gemeenskap in Willowmore tevrede was. Besighede in die woonbuurt het getoon dat 70% van hulle tevrede was en in die dorpskern was 81% van respondente tevrede met die behandeling van die munisipaliteit. In Steytlerville was 65% van die swart gemeenskap, 87% van die bruin gemeenskap en 88% van die wit gemeenskap tevrede, terwyl 100% van die besighede tevrede was met die behandeling wat hulle by die munisipaliteit kry.

Hoofredes soos deur respondente aangevoer vir ontevredenheid was ‘n gebrek aan aandag wat gegee word aan probleme, klagtes wat nie opgevolg word nie en arrogante amptenare.

 

In die dienslewering kategorie het beide Willowmore en Steytlerville baie positiewe terugvoering gehad. Meer as 85% van Willowmore se inwoners is in die volgende kategorieë tevrede: pad Infrastruktuur, straatname en biblioteekdienste. Tevredenheid persentasies in Willowmore vir straatligte, water, riooldienste, elektrisiteit, vullis verwydering, die skoonmaak van die dorp, instandhouding van die begraafplaas, gemeenskapsale en brandweerdienste was bo 90%. In Steytlerville is 90% en meer van inwoners tevrede met water, riooldienste, elektrisiteit, vullis verwydering en die skoonmaak van die dorp tevrede. Meer as 80% van Steytlerville se inwoners is tevrede met die straatname, lisensie dienste en behuisings ondersteuning. Willowmore se laagste persentasie van tevredenheid in die dienslewering kategorie was 67% vir pad aanwysing, terwyl daar in Steytlerville tekortkominge gemerk is in padborde en pad aanwysings (46%) en parke (22%).

 

In die kategorie ekonomiese ontwikkeling voel inwoners van alle gebiede dat daar meer spasie nodig is vir informele handel, daar nie genoeg ondersteuning vir feeste en sosiale geleenthede is nie en dat meer volhoubare werkskeppings projekte nodig is. Daar is ook ‘n behoefte aan groter ondersteuning vir plaaslike produkte en dienste en mentorskap programme. Inwoners van Willowmore voel net 55% tevrede met die toerisme dienste wat verskaf word, terwyl Steytlerville inwoners baie tevrede is met 85%.

Die finansiële bestuur van die munisipaliteit het baie hoë persentasies van tevredenheid onthul met ‘n algehele gemiddeld van 86% in Willowmore en 85% in Steytlerville. Die hoogste persentasies van tevredenheid in Willowmore word aangetref vir skuld invordering en betaling metodes (99%) en beskikbaarheid van kassiere (97%) en in Steytlerville vir meter lesings (93%), rekeninge (95%), beskikbaarheid van kassiere (98%), betaling metodes (99%) en deernis hulp (96%).

 

Die laaste kategorie was vir goeie staats bestuur en publieke deelname, waarin respondente gevoel het dat daar beperkte deelname in publieke vergaderings is, maar wel tevrede is met die vergaderings wat hulle wel bywoon. Hiervan die IDP, begroting en behuising vergaderings die gewildste. Meer as 80% van besighede voel dat hul insae ‘n invloed sal hê op besluitneming van die munisipaliteit.

 

In Baviaanskloof is 100% van respondente tevrede met die dienste wat die munisipaliteit verskaf en werkskepping deur tydelike werksgeleenthede. Hulle voel die voorsiening van water, toilette, straatligte en die sport veld sal ‘n groot verbetering in hul lewens teweeg bring, maar dat die werkloosheid syfer van jongmense te hoog is en dat inwoners te afhanklik is van all pay. Laastens voel die inwoners van Baviaanskloof dat die toekoms in hulle eie hande is, maar dat daar te min interaksie en voordeel vir hulle in toerisme geleenthede is.

 

Die munisipaliteit bedank elkeen wat deelgeneem het aan die tevredenheidsondersoek, want deur bewus te wees van tekortkominge in die oë van ons gemeenskap kan ‘n daadwerklike poging aangewend word om hieraan aandag te skenk.

 

back
 

customer care survey

website design, search engine optimisation by ZAWebs Designs ZA Webs Valid XHTML 1.0 Transitional
web hosting by ZAWebs Hosting ZA Web Hosting